Sy naam is op almal se lippe. Sommige sien hom as ‘n slagoffer. Ander sien hom as ‘n bedreiging. Vir ander is hy ‘n held. André de Ruyter het in die ooste van Pretoria groot geword. ‘n Skoolmaat van sommige van ons in Stellastraat, gematrikuleer aan die Hoërskool Menlopark.
Met die dat sosiale media so baie wan-inligting na ons bring, weet ‘n mens nie meer wat waar is, wat word oordryf, en wat is nié waar as jy iets oor Eskom en André hoor nie. Met die netwerk van elektroniese paaie wat nuus en vals nuus dra, weet ‘n mens nie meer of die waarheid ooit die leuen sal kan inhaal nie?
Vir my is André ‘n held. Want hy het opgestaan en die ‘leuen’ uitgewys. Dit wat mense nie weet nie, en wat eintlik ons almal se pyn veroorsaak, het hy uitgewys. Daardeur het hy homself en sy familie blootgestel aan venyn en wraak. Hy het sy eie lewe op risiko geplaas. Sy toekoms op die spel gesit. Ek salueer enige mens wat vir die waarheid staan, al weet hy die burokrasie gaan met alle mag vir hom kom.
Wat het André se inbors gevorm? Waar het hy die waardes van toegewydheid, eerlikheid en opoffering aangeleer? By sy ouers, by sy skool, by sy kerk? Die omgewing wat André en mense soos hy grootgemaak het, verdien ook ‘n saluut. Mag die waarheid seëvier. En mag die omgewing wat sulke mense voortbring nooit ophou bestaan nie.
Comments