top of page
Search

Die nuwe posbus het ons wêreld geword

Daar was tye wat ons steen en been gekla het oor die berge gemorspos wat in ons posbusse by die voorhekkie beland het. Nou is daardie posbusse leeg, maar ons nuwe posbusse, ons selfone, se berge ‘gemorspos’ is tien maal groter!


Elke mens wat ’n selfoon het, is nou ’n posman. As jy iets kry wat vir jou oulik is, dan stuur jy dit vir jou vriende en familie aan. Of dit die waarheid is of nie, maar jy kan dit nie vir jouself hou nie. ’n Stortvloed van prentjies, artikels, video’s en foto’s bereik elkeen van ons – op ons selfone.


Nuuskierigheid maak dat ons al die pos op ons selfone beloer. Die nuwe posbus het ons wêreld geword. Maak nie saak waar ons is nie, in die bed, in die kar, tussen mense – ons moet net gou kyk wat ingekom het! Dié posbus en sy collage van roepe, vra ons aandag! Ons het geleer vlug-kyk. Waarvan ons hou en waarvan nie. Die lang video’s gaan dikwels gou asblik toe. Daar kom waardevolle artikels en inligting aan. Daar kom die heerlikste humor deur. Ook galgehumor. Die pragtigste kuns. Maar daar kom ook leuens deur. Valse propaganda. En natuurlik, die bemarkingsboodskappe, die advertensies.


Die nuwe posbus is nie net sleg nie. Ons kan murmureer dat hy verwarring in die lyne van waarheid veroorsaak, en dat hy ons tyd en maniere steel. Maar genadiglik bring hy ook prentjies en stories van ons kinders en vriende wat deesdae in vêr lande bly. Die nuwe posbus bring ons geliefdes naby. En vir baie is die nuwe posbus ’n verlossing van eensaamheid.


6 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page