top of page
Search

Hierdie waarheid wil ons nie hê nie

Sit die christelike kerk op die pawiljoen en kyk hoe die waarheid sneuwel? Of is dit meer ingewikkeld as dit? Christene het ‘n waarde wat van hulle doopdag af in hulle ingeprent word: Jy mag nie vals getuies lewer nie. Laat jou ja, ja wees, en jou nee, nee. Wanneer dit by die waarheid kom, is daar nie kompromieë te sluit nie. In God is daar nie duisternis of valsheid te vind nie – en so hoort dit in Sy volgelinge se lewe ook te wees. Behalwe natuurlik, as jy jou president wil behou. Dan word jy medepligtig om die waarheid uit vele hoeke te bekyk, tot dit duidelik na ‘n bose sameswering lyk. Gee die waarheid ‘n klomp houe. Vernietig die boodskapper. Doen enige-iets, maar hierdie waarheid wil ons nie hê nie.


Ons is nie alleen as dit by die verwording van die waarheid kom nie. Dit is nie maklik om te erken dat jou kerk se heiliges hulle wel skuldig gemaak het aan molestering van kinders nie. Of dat die gewilde dominee lang vingers gehad of anderkant die draad gaan kuier het nie. Die waarheid maak mens vry. Dié ou uitdrukking het meer waarde as wat ‘n mens dink. Wanneer jy jou lewensreis met ‘n leuen op jou rug probeer voortsit, word jy al hoe krommer, leliker en meer betekenisloos. Kom meneer die president, ons wil nie op die pawiljoen sit en kyk hoe die waarheid sneuwel nie. Wees iemand met integriteit en dra die gevolge van dit wat jy verkeerd gedoen het. Respekteer nie net die reg nie, maar maak die regspraak in ons land sterk en geloofwaardig. Loop voor. Jy sal sien dat jy daarna nie net self vry sal lewe nie. Jou optrede gaan baie mense inspireer.


11 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page