top of page
Search

Israel en Hamas - dit is moeilik om nié kant te kies nie

Die huidige oorlog in die Midde-Ooste ontlok baie emosies. Dit is moeilik om nié kant te kies nie. Wanneer ’n mens die nuus volg, wil dit lyk of Israel die goeie ou is, maar tog is hy ook ’n genadelose boelie. En dit wil lyk of die Hamas-Palestyne die slagoffers is, maar dit voel heeltyd of daar onderduimsheid onder hulle is.


Een oomblik begryp jy Israel se vasberadenheid. Hulle het geen ander land waar hulle kan gaan bly nie, en basta. Jy het ook bewondering daarvoor dat hulle midde-in die groter Arabiese wêreld vasskop, en sê: hier gaan ons bly. Die volgende oomblik is jy ontsteld, want dit is asof die Israeli’s nie omgee wat van die mense word wat al geslagte in die land woon nie. Hulle druk hulle net eenvoudig weg.


Net so begryp jy die Palestyne se sug. Hulle voorouers en hulle woon al geslagte lank in die land. Hulle wil ook in Israel bly. Maar jy verstaan nie hoekom hulle doen wat hulle doen nie. Die soort van geweld wat Hamas gebruik om aandag te trek, is verfoeilik. Die onlangse aanval wat die huidige oorlog met Israel begin het, bevorder nie hulle saak nie. Geweld ontlok geweld. Hamas se guerilla-aanslag verteer hulle eie mense.


Daar is huidig min wat hoop het vir ’n vredevolle oplossing in Israel. As daar ooit ’n duif met ’n vredestakkie in die bek nodig is, is dit in Israel. Kom ons vestig ons hoop op die duif, en nie op die kant vir wie ons ’n sagte plek het nie.

6 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page