top of page
Search

Suid-Afrika is nié ’n plek vol vrot mense nie!

Ek weier om te glo dat Suid-Afrika ’n plek van vrot mense geword het! Inteendeel, ek dink die goeie mense en die goedheid wat uit mense kom, is veel meer as die negatiewe narratiewe wat nou oral oor Suid-Afrika gebesig word. Die versoek van die Dagbestuur van die NG Kerk se Algemene Sinodale Kommissie dat gemeentes op 13 Augustus moet verootmoedig oor die toestand waarin die land verkeer, laat my met gemengde gevoelens.


Met die lang lys van dit wat verkeerd is, kan ek nie stry nie. En dat korrupsie, swak dienslewering, en onbekwaamheid ons samelewing verwond, is oral sigbaar. Ons ons mag nie daaroor stilbly nie, ons het ’n verantwoordelikheid teenoor onsself en die mense van ons land.


Die probleem is dat die indruk geskep word dat ons land deur slegte mense oorspoel is. Orals duik statistieke op van hoe hoog ons op die misdaadsyfer lê, hoe swak ons kinders geleer word, en hoe treurig mediese dienste is. Daar is ’n anderkant van die muntstuk. Ons pak Loftus vol en is vrolik. Ons geniet die heerlikste kosse en drinkgoed op die talle pragtige plekke in ons land. In ons daaglikse bestaan is die oorgrote hoeveelheid mense nie net hoflik met mekaar nie, maar vriendelik en vrolik.


Daar is amper ontelbare omgee-aksies orals rondom ons aan die gang. Die goeie mense, en die mense wat goeie bedoelings met mekaar en die toekoms van die land het, is myns in siens veel meer as die groep wat ons nou ’n slegte naam gee. En die goeie seevier altyd. Laat ons nie ophou om te wees wie ons is en wat ons wil wees nie – dit is ons roeping! Die bose mag nie ons identiteit of ons lewe bepaal nie!


3 views0 comments

Recent Posts

See All

Комментарии


bottom of page