top of page
Search

Wat sou die skrywer van Job oor óns wildtuin gesê het?

Die Krugerwildtuin is die naaste wat Suid-Afrikaners aan ‘paradys’ kan wees. My stelling. Ek wil nie nou in die gesprek betrokke raak oor klagtes dat die wildtuin se geriewe agteruit gaan nie. Dit is iets anders. Die Krugerwildtuin is ‘n plek waar diere in die veld, en in die water, en in die lug leef sonder menslike ingryping. Natuurlik is daar mensehande in die Krugerwildtuin - daar is ’n heining, en veeartse en strategie om te bewaar en alles word bestuur. Maar, in die Krugerwildtuin word die natuur se voedselketting in die grootste mate wat dit kan, gegun om om sy gang te gaan.


’n Besoeker aan die Krugerwildtuin ervaar eerstehands hoe bykans elke lid van die diereryk elke dag moet soek na voedsel en water. Die ma-leeu se sorg noop haar om daagliks vir haar en haar kleintjies kos te soek. Dit wil lyk of die visvanger onophoudelik in die water moet plons om te oorleef. Die aasvoëls en hiëna’s is in ’n ewige stryd om op oorblyfsels te aas. Die olifante verorber tonne en tonne plantemateriaal om dan weer deur hulle ekskresie voedsel aan talle klein organismes te gee.


Die majestieuse bome wat orals op die rivierlope statig waak, gee kos aan soveel voëls, insekte en blaarvreters. Elke boom is ’n karakter, ‘n lewegewer op sy eie. En dan die klanke. Van die mooiste is die visarend se roep, en so ook die musiekmooi suiwerheid van die bosveldvisvanger. En netso die gekwetter van die bospatrys, die vroegaand speelsnorke van seekoeie, en natuurlik die vêr-af gebrul van die maanhaar in die na-nag.


Die skrywer van die bybelboek Job het so mooi gedig oor die diere van die aarde. Ek wonder wat sou hy geskryf het as hy in óns Krugerwildtuin kon wees!


 
 
 

Comments


  • Facebook - White Circle

NG KERK STELLASTRAAT © 2021

bottom of page