top of page
Search

’n Saak van lewe en dood

Die dood het ’n manier om ons te dwing om oor die lewe te dink. Verlede Sondag se aankondigingsbladjie met die lys van name van lidmate wat oorlede is, het juis dit gedoen.


Met Gys het ek lank nou saamgewerk toe hy ons kerk se geboue versorg het, Jan onthou ek uit die dae van huisbesoek in Menlopark. Helena die stylvolle vrou en Suzette die een wat so voluit geleef het, is nou ook nie meer in die lewe nie. Elkeen van hierdie name roep ’n lewe na vore waaroor ek met groot vrymoedigheid ’n waarderende woord sou kon sê.


Sou kon sê... Dit is die skuldgevoel wat ek aanvoel by die lees van die name. Hoekom het ek dit nie gesê nie? Ja, ek het ’n weersin in waarderende woorde wat eintlik niks anders as manipulerende vleitaal is, waarmee mense so dikwels hulle eie belang dien. Maar laat die misbruik ons nie weerhou daarvan om met opregte waardering teenoor mekaar te leef, dit te sê en met dade te wys nie.


Dalk moet ons die kuns aanleer om mekaar te waardeer vir wie ons is, en nie noodwendig vir wat ek vir jou kan doen nie. Ek gaan hierdie week doelbewus soek na geleenthede om waardering te bring na mense vir wie hulle is. Terwyl hulle lewe.

15 views0 comments

Recent Posts

See All

Comentários


bottom of page