Dit is tyd om terug te kyk. Om die soet en die suur van die jaar wat verby is, te bedink. 2023 was nie ’n maklike jaar nie. Tog, was daar deur die jaar briljante lentebloeisels aan die bot!
Die suur was maar suur. Die oorlog in die Midde-Ooste het die stryd in die Rusland/Oekraine opgevolg met al die pyne wat die res van wêreld moet beleef. In ons geliefde land het stygende rentekoerse baie groter armoede veroorsaak. En terwyl die korrupsie-karakter van Suid-Afrikaanse politici al hoe meer prominent word, word die slaggate in die paaie rondom die kerk al meer. Die suurste suur was egter Eskom. Beurtkrag het ons by tye laat stotter. In Stellastraat het ons dikwels rooi gesigte gehad.
Al het heelwat mense persoonlike verligting gekry met sonkragsisteme, het meeste mense diep bedruktheid ervaar, veral as die krag so drie of vier keer per dag af was. Dink net wat die arme besighede moes deurmaak. Die geweldige kostes om die deure oop te hou.
Die soet was egter heuningsoet! Dit het soms stadiger gevoel, maar dit was of Stellastraat nie spoed verloor het nie. Hoe swaarder dit in die wêreld gegaan het, hoe oper het Stellastraters se harte en hande gegaan! Net in die laaste drie maande: voorsiening van skooltassies, bokse kruideniers, weeklikse kosvoorsiening, die skoene, meel wat afgelewer word, hulp aan Geseënde hande se koekie-projek, Huis 8 se seevakansie – alles het net gebeur, sonder ophou, doelgerig!
Eintlik is dit die verhaal van die hele jaar. Ten spyte van onweerswolke, kon Stellastraat aanhou om die hande van ons liewe Heer te wees! Wat ’n voorreg om deel van so ’n gemeenskap te kan wees!
Kommentare