top of page
Search

Sit die ketel aan 2.0

Hierdie is my heel eerste stukkie wat ek vir die Stellastraat Blitsnuus geskryf het en as ek my datums nou reg het, was dit die Blitsnuus van Sondag 29 Julie 2012. Ek het in hierdie week op die stukkie afgekom en deel graag weer. Aangesien 12 jaar ‘n redelike lang tyd is het ek my stukkie so klein bietjie gemodify – maar ek’s baie dankbaar om te sê dat die kernboodskap nie verander het nie.


Ek het ‘n oneindige liefde vir my gesin…al is ons somtyds…emosioneel en dramaties. In ons huis is die kombuis die sentrale bymekaarkomplek en in hierdie sentrale bymekaarkomplek het ons ‘n bloedrooi fluitjieketel.


Hierdie fluitjieketel is ‘n metafoor van omgee, liefde en verstaan. Verskeie kere op ‘n dag word die ketel aangesit en tee word gemaak. Tee vir as ons moedeloos is, tee vir as ons die wêreld se probleme moet oplos en tee vir die siel. ‘n Hele rukkie terug (12 jaar om presies te wees) lees ek die boek “When God was a Rabbit”. Hierdie boek handel oor ‘n gewone gesin deur die oogpunt van die jongste dogter, Elly, oor ‘n tydperk van om en by 30 jaar. Hoe die gesin saam die gelukkige en die slegte tye hanteer. Hoe die gesin, nes my eie, ook bietjie emosioneel en dramaties is. Die mees opvallendste deel van die boek is oor hoe die jongste , Elly, en haar ouer broer, Joe, se liefde vir mekaar nooit verander nie. Die sussie-boetie band wat onbreekbaar is. Die opsomming op Amazon vat dit mooi vas: “This is a book about a brother and sister. It’s a book about childhood and growing up, friendships and families, triumph and tragedy and everything in between. More than anything, it’s a book about love in all its forms.” Vandag leef ons in ‘n wêreld baie anders as 30 jaar gelede. Misdaad, naamveranderings en families word verpletter deur verlies. Miskien in die tyd van nood, moet ons die ketel in die kombuis gaan soek. God stel ons gerus in 1 Korintiërs 13. Die liefde is geduldig, vriendelik en nie afgunstig nie. Daar word nie met die kwaad boekgehou nie.


Daar is nie een gesin wat volmaak is nie en ons is maar almal bietjie emosioneel en dramaties. Ons almal het ons kruis wat ons saam met ons dra en ons het almal die ondersteuning nodig van ons gesin, familie, geliefdes, vriende en geestesgesin. As jy somtyds sukkel om die ketel in die kombuis te vind…begin hier, hier by die kerk waar jy rondom God en jou geestesgesin is. Ons almal het mekaar lief…en of ons nou daarvan hou of nie…ons almal het ‘n koppie tee een of ander tyd nodig.


23 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page