Wilhelm Jordaan skryf die afgelope week dat ‘n mens eers moet ouer word om te besef dat jy jouself in jou ouers én jou kinders kan raaksien. Wat jy as ‘n tiener en jongmens probeer ontken het, of daarvan “weg” probeer leef het, word net duideliker in jou hoe ouer jy word. Julle het baie van mekaar.
Ek dink dit is ook waar van die kerk. Elke generasie wat die kerk se stoomenjin word, verkwalik ‘n bietjie besluite van hulle voorgangers. Oor een of ander besluit of iets. En hulle frons van bekommernis as hulle die afwesigheid van hulle kinders in die kerk sien. Maar tog gee elke generasie klokslag dieselfde geloofs DNA oor aan die volgende.
Mense wat ‘n kerklike DNA in hulle het, aard almal op ‘n manier na mekaar. Hoewel hulle hemelsbreed oor baie dinge verskil is daar in hulle almal respek en eerbied vir die Onsigbare (God) en die Bybel. Dit maak ook nie saak waar hulle is nie, en in wie se geselskap hulle is nie, soos in Dana se oupa-vertelling van die witperd, sal die kerk, God en die Bybel deel van hulle lewe bly. Soos plooie kan dit nooit permanent uitgevee word nie.
Daar is mense, selfs generasies, wat die geloofs DNA onderdruk. Uitwroeg. En dit inderdaad regkry ook. Om maar net te beleef hoe ‘n geslag of wat van hulle nakroos later weer terug is in die groep wat vol respek en eerbied vir die Onsigbare, die Bybel en die kerk is.
תגובות