top of page
Search

Dankie vir Bybels

In Koninkrykstyd gaan dit vir ons oor hoe ons as gelowiges leef. Een aspek waaroor ons in dié tyd kan nadink, is die Bybel. Dit is immers vir gereformeerde gelowiges die riglyn vir die lewe. Die kerkhervormers het vier, vyf eeue gelede gesê: “Sola Scriptura!” ofte wel: “Die Bybel alleen” is die riglyn vir ons lewens. Daarom is dit gepas dat dr James Kirkpatrick van Woensdag 30 Augustus tot Woensdag 25 Oktober vir Stellastraat ’n Bybelstudiereeks aanbied oor die verantwoordelike hantering van die Bybel.


By dit alles is 27 Augustus vir ons ’n belangrike datum. Dis Bybelsondag, want op dié dag in 1933 is die eerste Afrikaanse vertaling van die Bybel bekend gestel. Dit beteken ons vier hierdie Sondag die 90ste verjaardag van die Bybel in Afrikaans. Wat ’n voorreg is dit om die Bybel in ons moedertaal, ons hartstaal, te kan lees. Omdat die Bybel vir ons so belangrik is, wil ons dit ook graag vir ander mense beskikbaar stel. Daarom het Stellastraat ’n lynitem op die uitreikbegroting vir Bybelverspreiding. Die afgelope paar jaar het ons byvoorbeeld vir mense van die Stellastraat Faith Community Bybels in hul eie tale beskikbaar gestel. Ook die seuns van Huis 8 van Jakaranda Kinderhuis het op ’n stadium elkeen sy eie Bybel gekry. Die geld wat nie so direk vir Bybelverspreiding gebruik word nie, word verdeel tussen twee van ons vennote. Die een is die Bybelgenootskap wat sorg dat Bybels in verskillende tale beskikbaar is. Die tweede is die Gideons wat Bybels versprei. Die Gideons is ook genooi om hierdie Sondag, op Bybelsondag, by die twee oggenddienste en die aanddiens hulle werk te kom bekend stel. Daarby het ons gereël dat daar nou R5000,00 aan die Gideons oorbetaal word, wat genoeg is om 200 Nuwe Testamente te finansier. Stellastraters wat die Bybelgenootskap en die Gideons se werk geldelik wil ondersteun, kan direkte oorbetalings aan hulle doen. Inbetalings wat direk op Stellastraat se rekening gedoen word en gemerk word “Bybels” sal ook vir Bybelverspreiding gebruik word.

4 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page