En daar tref die heerlike Desembermaand ons uiteindelik! So midde die nasies se oorloë, grootskaalse verval van geliefde omgewings, kragonderbrekings, versengende hitte en hope onsekerhede, is Desember Suid-Afrikaners se asemhaalmaand.
Die verkeer is minder druk, mense is oor die algemeen meer ontspanne, en daar is iets om na uit te sien. Die familie gaan mekaar weer sien, ons gaan dalk op vakansie, daar is minder werksdruk.
’n Asemhaalmaand is belangrik. Geen mens kan aanhou hardloop nie. Erêns moet jy rus, asemhaal, die omgewing rondom jou waarneem, bietjie regpak, nadink. Dit is waarvoor Desembers gemaak is! En natuurlik die heerlikheid van Desember is dat ons buite kan wees. Dat ons kan stap en speel en bykans daagliks die donderstorms sien aankom. Alles teen ’n heelwat laer spoed!
Vir ons in die kerkomgewing is dit belangrik om gesinne aan te moedig om die tyd in mekaar te belê! Geniet mekaar, gee tyd aan mekaar, speel kaart, gaan stap, lees boeke, praat oor dinge wat vir julle as gesin waardevol is. Maak die tenk vol, want dit lyk of 2024 groot uitdagings aan ons gaan stel.
Commenti