top of page
Search

Die ANC se onderrok is op sy voete

Updated: Aug 15, 2023

Jy weet nie eintlik hoe om jou weersin te beskryf nie? Die huidige Suid-Afrikaanse regering is gebore uit ‘n vryheidsbeweging. Die African National Congress. Vryheidsbewegings kommunikeer hulle swaarkry en hulle gekneldheid. Enige-iemand wat ‘n aanvoeling vir geregtigheid het, ontwikkel simpatie vir bevrydingsbewegings wie se saak meriete het.


Daarom is die ANC-regering se swye en wegkyk van die Russiese vergrype in die Oekraïne ‘n bitter pil, ‘n rede vir weersin. Om weg te kyk terwyl jou ‘vriend’ (Poetin) ‘n demokratiese en nie-vyandige land inval, onskuldige burgers om die lewe bring, en gewone mense se leefwêreld verwoes, sê so baie van jou integriteit. Is Poetin se oorlogtenks anders as die stootskrapers wat Distrik Ses platgevee het? Is dit anders as die muur waar agter die Israelies die Palestyne ingeprop het, waaroor jy gedurig iets te sê het? As jy die beginsel van vryheid en demokrasie met ‘n gebalde vuis-saluut hoog opgee, dan het die ANC-regering se onderrok so pas op sy eie voete geval.


Jy kan nie ‘n laer morele vlak betree as jy gerieflik wegkyk terwyl ‘n onskuldige medemens vermoor word nie. Dan het jy van jou status as bevrydingsbeweging afstand gedoen. Dan is jy ‘n swakkeling en verdien jy geen respek nie.

Verteer

Ek sal nooit weer van die wingerd kan drink

sonder dat ek die bitter smaak en oneer

sal proe wat jy, Kiëf, onder Poetin moes verduur –

sy magslus het jou en jou kinders verteer.

Wie is teen dié verwording en verwonding bestand?


(Cas Vos, lidmaat en oud-leraar van Stellastraat, het Woensdag ‘n kwatryn geskryf oor die gebeure in die Oekraïne.)

14 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page