Hier is ons nou. 2024. Die deur tot die onbekende jaar staan wawyd oop en waar ons ookal mag wees aan die einde van die jaar, sal net die bloudak se Baas weet. Kom ek verduidelik.
Antionette Pienaar, die unieke, wyse kruietannie, het die nalatenskap van Oom Johannes Willemse, haar mentor en kruiekenner wat kort tevore “huis toe” is, as volg saamgevat.
Elkeen van ons is gebore met ‘n boom in ons hart wat groei en wat nooit sal doodgaan nie. Soms verdor hierdie boom, maar groei weer deur ‘n mens se trane, hetsy harteer of gelukkig. Hoe meer die trane vloei, hoe meer raak ons bewus van die boom in ons hart.
Dis belangrik om lig in jou lewe te hê. Steek elke dag jou kers aan sodat jy jou lig kan sien en onthou, al is die dag hoe donker en die lig hoe klein. Ons pad is vir ons uitgelê en onbekend. Oom Johannes het geglo dat elkeen sy pad moet skoffel en na die beste van sy vermoë moet loop. Volgens hom is ons op hierdie aarde se pad om tot diens te wees van ander en nie vir eie gewin nie.
As jy nie weet watter kant toe nie, dan weet jy mos waar jou Hulp vandaan kom. My gebed vir jou vir hierdie jaar is dat jy nooit sal vergeet om op te kyk na die bloudak se Baas nie. Hy weet en Hy sal sorg.
Al is jou boom op die oomblik dalk droog en jou kers se vlam piepklein, weet altyd dat jy Stellastraat as jou Noord kan gebruik. Hier is liefde en hier is God.
Comments