top of page
Search

Die bose moenie ons koppe van koers af druk nie!

Het goedheid die stryd verloor? Nuusberigte in Suid-Afrika is huidig deurtrek van bose gebeure wat orals in die land plaasvind. Die ergste berigte is seker die massaverkragtings wat onlangs in Krugersdorp plaasgevind het. Ou mense wat wreed en sinneloos met pale geslaan en vir die dood gelos is. Talle hofsake oor geweld wat in gesinne gepleeg is op ons nuusblaaie. Dit is asof die een erge daad die ander een vinniger en vinniger opvolg. En op die koop toe word berig dat lede van die SAPS dikwels betrokke is by van die misdade.


Dié nuusberigte kan die indruk wek dat ons wêreld in ‘n spiraal van misdaad verval het. Is dit die era van die vigilantes? Die vernietigers? Het goedheid die stryd verloor? Ons moenie toelaat dat die talle berigte oor die bose ons koppe van koers af druk nie. Die oorgrote getal mense op die aarde is goeie mense. Mense wat in die lewe die goeie wil sien en die goeie doen. Wat omgee vir hulle medemens, respek het vir wet en orde en wat graag wil sien dat die aarde en sy bewoners in vrede en harmonie leef. So ook die oorgrote getal lede van die SAPS.


Wat ons koppe ook nie moet doen nie, is om ons oë te sluit. Daar is wel ‘n teelaarde vir die bose waarvan ons bewus moet wees. Armoede en ‘n gevoel van verwerping laat mense soms gewetenlose en desperate dinge doen. Mense wat pyn ervaar, het somtyds ‘n dryf om ander ook pyn te gee. ‘Hoekom moet ek alleen pyn ervaar?’


Terwyl ons die goedheid omhels, moet ons sensitief wees oor wat in die wêreld gebeur en hoe ons dalk onnadenkend daartoe bydra. Soms - dikwels ongemerk met die tyd saam – ontstaan daar in ons midde teelaardes vir die bose. Dit sal nie help om net hande in die lug te gooi en te kla nie. Oor dit moet ons koppe ook nie koers verloor nie!


18 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page