Ek is nie eintlik ‘n kykerslaaf van die Oscars nie. Die spog (bling) en pretensie van dié toekennings-aand is oorweldigend. Net soos die tipiese jaarlikse opening van die Suid-Afrikaanse parlement. Maar ek hou van goeie flieks! Daarom is die een oor altyd oop as daar oor die Oscar-toekennings gepraat word.
Die gewaande klap wat Will Smith vir Chris Rock gegee het, het my dan ook die kykweer laat speel om self te kan sien wat het in die stukkie moderne hollywoodgeskiedenis gebeur. Ek wil my nie uitgee oor die meriete van die klap nie, want daaroor is daar net soveel tweespalt soos oor Trump, Poetin en die entstowwe.
Dit is die totale omvang van Will Smith se optrede wat my gedagtes nie wil verlaat nie. Die Oscarwenner, Smith, praat met sy dierbare trofee in die hand oor sy passie vir liefde en vrede – en die trane loop. Smith gee sy hart vir Hollywood, en die applous kom in oorvloed. Asof hy nie kan onthou dat hy so pas ‘n ander man voor miljoene mense ‘n klap gegee het en daarna uitgeskel het nie.
Hoe werk daai som? There is no business like showbusiness. Is dit maar hoe dit is? ‘n Beeld na buite vol pretensies wat die wêreld op hol het, maar ‘n straatboelie wat beheer verloor wanneer ‘n opmerking of twee jou nie pas nie? Is dit hoe die wêreld maar eintlik is?
Dit was Langenhoven wat gesê het:
Daar is mense wat hulle oë so knaend
daarbo op die Hemel gevestig hou
dat hulle nie sien hoe min goed hulle hande
hieronder op aarde doen nie.
Comments