top of page
Search

“Die dominee op besoek by die atletiek”

Donderdagmiddag gaan ondersteun ek my kleindogters by die atletiek. Vir bykans twee jaar al vermy ek groot groepe en die baie mense is ietwat oorweldigend. Ek hou my masker op en probeer afstand hou. Laasgenoemde blyk onmoontlik te wees. Al die teenstrydighede wat so deel van ons lewe geword het, is ook weer hier duidelik. Masker op as jy op die pawiljoen sit, masker af as jy deelneem. Na die wen van hulle aflos, gryp die pragtige vier jong kinders mekaar en dans in ’n kring hulle vreugdedans. Dit moet seker nie, maar dit is so mooi! En meteens dink ek aan die kerk. Dit is seker net ’n dominee wat by ’n Laerskool atletiekbyeenkoms aan die kerk sal dink, maar hierdie vier uitbundige jong kinders wat in ’n kring dans, is inderdaad ’n uitnemende metafoor vir wat die kerk is. Mense wat as unieke individue mekaar vashou en saam bly is. Volgende keer maak hulle dalk ‘n kringetjie en huil oor die aflosstokkie wat geval het, maar hulle is aan mekaar verbind. En ek sit en dink aan die teorie dat die woord “kerk” afgelei is van die Latyn “circa” wat sirkel beteken. Mag 2022 ’n jaar wees waar ons mekaar vashou. Mag ons saam van vreugde dans oor die goeie nuus van die Evangelie. Mag ons saam in die ligkring van God se genade ontdek hoe nodig ons mekaar het. Wen of verloor, lag of huil, ons is aan mekaar verbind.


En toe voel ek minder skuldig dat ek heelmiddag by die atletiek sit terwyl ek moet preek maak vir Sondag. Ek het darem aan die kerk gedink. Ek moet onthou om in my dagboek die besoek aan Tygerpoort Laerskool se interskole atletiekbyeenkoms as amptelike kerkwerk aan te teken.


13 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page