Dit is lekker om soms uitbundig te wees! Wanneer is soms? As jou span wen. As jy lekker partytjie hou. As jy ‘n goeie gholfhou slaan. Dit is in ons aard om die emosie van uitbundigheid te kan hê. En dit is lekker om uitbundig te wees, en ewe lekker om ander mense se uitbundigheid te sien. (Uitbundig en laf is nie dieselfde nie).
Soms lyk uitbundigheid anders. Uitbundigheid kom soms in die vorm van ‘n diep blydskap wat in jou gemoed kom lê. Net soos die vrolike note van die orrel nie sonder die diep klanke van die basnote kan aanhou leef nie, so kan uitbundigheid nie sonder die diep blydskap van my binnekant nie.
Dit gebeur mos dat ons soms met welbehae agteroor sit. Asof jy op daardie oomblik nie kan dink aan enige probleem of las in jou lewe nie. Asof die goeie wat jy beleef jou emosies oorneem en jou op ‘n reis van saligheid neem. Die gevoel van diep blydskap, saligheid, beleef ek veral as ek ‘n goeie boek lees, of na mooi musiek luister.
Godsdiens behoort eintlik die effek op ons te hê. Om ‘n diep saligheid en blydskap in ons te veroorsaak. Godsdiens moet ons nie bang maak of heeltyd met skuldgevoelens te laat loop nie. Godsdiens behoort die diep basnote te wees waarop ons die musiek van ons lewens behoort te komponeer. Op die ewige liefde van God wat in die skepping, in die lewe van Jesus en die liefde van ons medemense te vind is.
Comentários