top of page
Search

Die liefde van ‘n Ma

In hierdie dae is enige storie van hoop inspirerend. Maar die storie van Corné Els is meer as inspirerend. Dit laat ‘n mens opnuut weer dink oor die liefde van ‘n Ma. Corné se dogter, Marconette, is gekies om in Augustus aan die wêreldkampioenskappe vir toutrek in Switserland te gaan deelneem. Sy is deel van die Suid-Afrikaanse onder 23 span en benodig R160 000.00 om aan die toernooi deel te neem. Nadat die gesin verskeie fondsinsamelings oorweeg het, het Corné besluit op ‘n trekkerrit. Sy sou dan met hulle 1964 Massey Ferguson vanaf die Wieg van die Mensdom tot by Babylonstoren in Klapmuts ry. ‘n Roete van ongeveer 1,7986 kilometer waar mense R100 per kilometer kon borg.


Corné het op 19 Junie met die roete begin en het Maandag 3 Julie in die Kaap aangekom. Op hierdie tog het sy in die middel van die winter op ‘n oop trekker deur Noordwes, Gauteng, Vrystaat tot in die Kaap gery. Op ‘n stadium het sy so koud gekry dat sy nie verder kon ry nie. ‘n Weldoener het toe aan haar ‘n waterdigte reënpak geskenk om haar teen die koue te beskerm. Die trekkertjie is aan iemand in die Wes-Kaap verkoop.


Buiten vir hierdie liefde van ‘n Ma wat ‘n mens aangryp, is die woorde van Els so waar. Met haar aankoms in die Kaap het sy gesê, “Suid Afrikaners moet leer om mekaar te vertrou. Dit voel of mense nie meer in mekaar se lewe belangstel nie. Maar hierdie trekkertjie het so baie mense bymekaar gebring en moeite met mekaar gedoen dat ek weer hoop vir ons land het”. Die liefde van ‘n Ma en ‘n trekkertjie wat ‘n land bymekaar bring. Miskien het elkeen van ons iets wat mekaar weer bymekaar sal bring.


6 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page