top of page
Search

Die onverwagse oomblik en die hande

Die lewe het onverwagse oomblikke. Almal van ons ervaar dit een of ander tyd. Iets wat met ons gebeur wat ons nie verwag het nie. Tienie se val van sy fiets Maandagoggend was ‘n onverwagse oomblik.


Vir die wat nie weet nie. Tienie het Maandagoggend vroeg saam met ‘n groep vriende gaan fietsry. Vir oefening en vir saamwees. Forbes Reef in Waterkloofhoogte is ‘n afdraende pad met twee spoedwalle. Die tweede spoedwal is om een of ander rede nie maklik sigbaar nie. Baie van ons het daardie spoedwal al teen ‘n te hoë spoed getref. Dit het met Tienie daar op sy fiets gebeur en hy het deur die lug gevlieg en hard op die teer beland. ‘n Onverwagte oomblik in sy lewe.


Die beserings wat hy opgedoen het, het hom in die intensiewe eenheid van Groenkloof Life-hospitaal laat beland. Beserings aan sy nek, sy ribbes, sy gesig en die senuweebane wat na sy linkerarm gaan. Gelukkig herstel hy so goed dat hy intussen na die hoësorg saal geskuif is.


Soms kan ‘n onverwagse oomblik ‘n lewensveranderende oomblik wees. En gepaard gaan met van die mooiste dinge wat met ‘n mens kan gebeur. Dit kan met jou gebeur dat daar ‘n klomp hande onder jou ‘inskuif’. Wat jou optel en dra. Die vrou wat die kombers bring, die reaksie-eenheid wat jou so versigtig as moontlik neem na die plek waar jy versorg moet word. Die mediese spesialiste wat jou pynervaring verminder, wat jou skoon maak en gemaklik maak. Wat met besorgdheid oor jou waak en jou herstel fyn beplan. Jou familie wat jou liefhet en ‘n kring om jou vorm. Jou vriende wat die buitekring vorm en onophoudelik hulle hande aanbied. Dankie aan almal wat hulle hande in hierdie dae onder Tienie ‘ingeskuif’ het!


6 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page