Search

Die Rooiplein is terug, en ons kan nie wegkyk nie

Hoog op my persoonlike emmerskoplys is die Rooiplein. Die Rooiplein in Moskou. Ek wil daar gaan staan en ‘n obskure teken met my vinger in die lug maak, want die Beer het in die verlede in ons landjie tande kom inslaan wat ons seergemaak het.


Dit is danksy die Rooiplein en sy meesters dat baie van ons twee jaar verpligte militêre diensplig moes doen. Ons moes weerbare diens op die grens gaan doen om die kommuniste en die antichriste uit die land te hou. In die stryd teen die Rooigevaar, het ‘n hele klomp jongmense, familie en vriende, hulle lewens verloor. Die stryd teen die Bolsjeviste het vir baie families onuitwisbare pyn gebring, en die ekonomie tot by boomskraap gebring.


Nou is die meester(s) van die Rooiplein weer in die nuus. Dit lyk of hy weer wil seermaak. ‘n Oorlog in Ukraïne het die potensiaal om weer aan families skreeuende hartseer te bring. En natuurlik, die uitkringende effek van ‘n oorlog waarby die wêreld se groot moondhede betrokke kan raak, gaan wêreldwyd almal se beursies uitskud.


Die moontlikheid van oorlog in Wes-Europa is nie iets wat op ‘n ander plek plaasvind nie. Dit is so naby aan ons soos die hele wêreld aan ons, en aan ons kinders wat in die wye wêreld is. Ons kan net bid en hoop dat nugtere denke sal seevier. Die mensdom kan nie oorlog bekostig nie.

5 views0 comments

Recent Posts

See All