top of page
Search

Die swart kombuis is koud

‘n Biblioteek is ‘n wêreld. As ‘n biblioteek afbrand, sterf ‘n wêreld. Die ergste geval was seker toe die beroemde biblioteek van Alexandria in Egipte, wat reeds in die derde eeu van Christus begin is, deur wie weet wanneer vernietig is. Dit maak nie eers saak wie die vuur veroorsaak het nie, wat saak maak, is die verlies. Die skade aan die Jagger-biblioteek is nie net trane vir die Universiteit van Kaapstad nie, die verlies is die hele Suid-Afrika se verlies.


Van die oudste, oorspronklike en mees unieke dokumente, artefakte en versamelings wat die wêreld gehelp het om Suid-Afrika se verlede te verstaan, het verteer in die berugte Kaapse blaasvlam. Vuur én wind.


Volgens berigte het die Universiteit van Kaapstad die beste moontlike voorsorg getref teen brande. Dié instituut is inderdaad geleë op die wang van Tafelberg waar wind en weer nie net skoonheid bring nie, maar waar skade altyd ‘n moontlikheid is.


Ons kan maar net saam treur oor die verlies en pyn. Dit is ‘n werklikheid. Soos dit was met die brand van die Notre Dame in Parys en Derik en Linette se huis. Sheila Cussons het haar gesig ‘verloor’ na ‘ n brand in haar kombuis. Die laaste reël in haar gedig oor die brand sê alles: die swart kombuis is koud. ‘n Gedode biblioteek, is yskoud.


44 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page