Ek kan my verkyk aan sweefstokkunstenaars. Hoe hulle oënskynlik so vreesloos deur die lug beweeg. En hoe hulle met soveel rustigheid gevaar in die oë kan staar. Is dit selfvertroue? Kundigheid? ‘n Bietjie koppigheid? Óf is dit die vangnet onder hulle? Waarskynlik ‘n bietjie van als.
In my onlangse alterkasie met manne in uniforms en die tyd wat ek daarna in ‘n vangwa deurgebring het, was ek vir die grootste deel kalm gewees. In die dae wat op die gebeurtenis gevolg het, het ek myself ‘n paar maal afgevra hoe ek midde die traumatiese ervaring so rustig kon bly?
In retrospek besef ek dat die grootste rede vir my rustigheid my vangnet was. As jy vir soveel jare in ‘n omgewing woon het jy die voorreg om jou lewe met ‘n klomp mense te deel. Mense wat vriende en familie word. Mense wat ook jou vangnet word. Ek was nog nooit so dankbaar vir hierdie vangnet nie. Natuurlik waarborg ‘n vangnet nie dat jy ooit sal val nie, maar dit maak die valle van die lewe meer hanteerbaar. Ek en Peet is dankbaar vir die vangnet wat nie net op die betrokke aand ons gevang het nie, maar ook in die laaste twee weke. Ons is diep bewus van die voorreg om deel te wees van hierdie spesiale gemeenskap. Ons is ook bewus dat nie almal bevoorreg genoeg is om so ‘n omvangryke vangnet te hê nie, en daarom dink ons dat dit belangrik is dat ons as gemeenskap saam staan om hierdie tipe ongeruimdhede in ons gemeenskap stop te sit.
Comentarios