Jessica Dubroff was die dogtertjie van sewe, wie se pa die idee gekry het om sy dogtertjie vlieglesse te laat neem en haar dan in die Guinness Book of Records te kry as die jongste kind om oor die breedte van die Amerikaanse kontinent te vlieg. Op 17 April 1996 het hulle van Californië, aan die Amerikaanse weskus vertrek. Saam met haar aan boord was haar pa en die vlieginstrukteur. Daardie aand het sy stamperig geland op ‘n plek met die naam Cheyenne. Die volgende oggend was die weer baie sleg, maar met ‘n rekord wat wink, het die volwassenes die kind laat opstyg. Die Cessna het onmiddelik geweldig begin vibreer en dit het een-en-’n-halwe kilometer verder neergestort. Al drie insittendes was opslag dood. Sommiges se verklaring was dat die vliegtuig te swaar gelaai was.
Die meeste van ons se vliegtuigies is tans te swaar gelaai. Gelaai met al die ontwrigting van die afgelope twee jaar en die aanpassing by nuwe maniere van werk en leef. Gelukkig werk die ritme van die jaar so dat ons nou kan begin dink aan land en afpak. Ons sal weer opstyg as die weer mooi is, ons uitgerus en die lig blou is. Van volgende Sondag af is dit Adventstyd. Mag ons almal daarin slaag om tot rus te kom met die wete dat ons in die ruimte van God se liefde leef.
Geseënde Advent!
Commentaires