Search

Ek is bang

Ek bel dié week my niggie wat in KZN woon. Ek noem haar “Sus”, want ons het saam grootgeword. Die altyd vrolike positiewe Sus se stem bewe toe ek vra hoe dit gaan. Ek kan die vrees en angstigheid hoor as sy vertel hoe stukkend haar wêreld is. Ek het dit alles op TV gesien, maar nog nie deur die oë van een van die slagoffers nie. “Nee, ons was tot dusvêr gelukkig en het nie skade gely nie”, verseker sy my dadelik. Maar hulle het. Sy is duidelik getraumatiseerd. Ek kan hoor sy is bang.


Toe ek aflui na ‘n belofte om vir hulle te bid, sit ek en dink oor die gesprek. En ek besef ek weet nie mooi wat om te bid nie. En ek is ook bang. Ek is bang dat die geweld en vernietigende strooptogte verder gaan uitkring. Die veld is droog en dié vuur kan so maklik alles verswelg. Die kruppel polisiemag en die 2500 soldate (is daar nie in 2020 met die toepassing van vlak 5 beperkings 75 000 ontplooi nie?) gaan dit nie keer nie.


Ek is bang dat die “ons” en “hulle” langs rasselyne ons denke gaan oorneem. As die verdeling tog net eerder die tussen “vredemakers” en “geweldenaars” kan wees. Ek is bang dat die onhoudbare getal honger en arm mense nog meer gaan word. Ek is bang dat baie hulle werk gaan verloor. Ek is bang dat die reeds brose sosiale kontrak tussen die mense van ons land in vlamme opgegaan het.

Ek is bang dat ons nie sal weet wat die regte ding is om nou te doen nie. Wat sou die regte Woord in hierdie vreemde land moet wees. Ek is bang. Here, wees ons genadig.

6 views0 comments

Recent Posts

See All