top of page
Search

Ek weet nie wat om te doen nie?

Ek weet nie of ek net moet sug of huil of net eenvoudig daarvan moet probeer vergeet nie? Dit is nou al ‘n geruime tyd dat ‘n klompie dominee-kollegas dreig om die NG Kerk te verlaat. Hulle is beswaard. Volgens hulle het daar in die NG Kerk ‘n liberale skrifbeskouing ontwikkel waarmee hulle nie kan saamgaan nie. En die moeilikheid, volgens stemme in die groep, begin by die NG kerk se teologiese opleiding.


Ek is die eerste een wat sal saamstem dat daar tekortkominge in alle aspekte van die kerk se lewe is. Soos daar ook in my lewe is. Mense en instansies is allermins volmaak. Maar wat die kollegas - en ‘n hele paar is goeie kennisse van my - probeer doen, is gewoon verstikkend. Die teks van die Bybel en die huidige konteks waarin ons lewe kan nooit sonder mekaar bestaan nie. Die teks van die Bybel het in ‘n antieke samelewing ontstaan, en soos die samelewing ontwikkel en verander het, het dit nodig geword om tekste te herinterpreteer. Dit is die werk van teoloë. Die beste voorbeeld is die opdrag in die Bybel dat vroue altyd ‘n hoofbedekking in die openbaar moet dra. So was dit dan in die antieke tyd die absolute gebruik. Dit was die konteks van die 20e eeu wat gevra het dat dié hoofbedekkings-tekste, tog asseblief as ‘n ou kulturele gebruike beskou moet word. Dit is so aanvaar.


Daar is ‘n vermoede dat die beswaarde kollegas se eintlike grief die NG Kerk se “liberale standpunt” oor homoseksualiteit is. Dit is waar dat daar ‘n paar tekste in die Bybel is wat afwysend teenoor homoseksuele gedrag is. Bybelskrywers het nie geweet dat homoseksualiteit nie ‘n mens se keuse is nie. Dit is iets wat in ons huidige konteks deur die wetenskap aan ons bekend gemaak is. Elkeen van ons se seksualiteit word in ‘n baarmoeder gevorm. Elke mens het ewe veel waarde in God se oë. Die idee dat daar op mense wat homoseksueel gebore is en leef, “beperkings” geplaas moet word, kan in ons moderne konteks nie meer gehandhaaf word nie. As ons beswaarde kollegas nie konsekwent met die Bybeltekste en die verklaring daarvan werk nie, gaan die geskiedenis hulle onder die stof begrawe. En hulle kindskinders gaan sug of huil of maak of dit nie hulle voorouers was nie.


15 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page