top of page
Search

Het jy geweet jy is katoliek?

Het jy geweet dat jy deel van die katolieke kerk is? Die meeste lidmate van die NG Kerk sal dié stelling vreemd vind. Tog is dit waar. Spelling maak in die geval ’n groot verskil. Ons is almal deel van die katolieke kerk (kleinletter) alhoewel ons nie deel van die Katolieke kerk (hoofletter) is nie. Die woord “katoliek” met die kleinletter verwys hier na die kerk van die Here as groter geheel. Elke gemeente is heeltemal kerk, maar geen gemeente is die hele kerk nie. Die meeste lidmate van die NG Kerk het nie eintlik ervaring van die groter geheel nie. Elkeen skakel by ’n gemeente in en dit is jou ervaring van kerk. ’n Mens hoor meermale selfs negatiewe opmerkings oor groter vergaderings soos die van ’n Sinode.


Dit is jammer, want die perspektief op die groter kerk kan ’n besondere inspirerende ervaring wees. Ek is self nie iemand wat baie van vergaderings, en nog minder van groot lomp vergaderings hou nie. Oor die jare het dit my gehelp om perspektief te behou. Dit is nou weer sulke tyd. Vanaf Sondag 16 Oktober gaan ons gemeente se afvaardiging saam met 300 ander lidmate van 114 gemeentes van die Noordelike Sinode vir 5 dae lank besin oor kerkwees in hierdie tyd. Die oorkoepelende tema van die sinode is Wysheid in ’n tyd soos hierdie. Buite-sprekers soos prof. Thuli Madonsela, prof. Jannie Rossouw, dr. Roland Henwood, prof. Pierre Joubert en dr. Theuns Eloff gaan konteks gee aan ons besinning oor wysheid in ons tyd. Behalwe hierdie stimulerende gesprekke kry ‘n mens ook geleentheid om te sien wat die kerk op soveel terreine doen. Jy besef gou dat die wêreld groter as net jou eie is. Die barmhartigheidswerk van die 114 gemeentes haal nie die TV-nuus nie, maar dit maak ’n enorme verskil in die lewe van derduisende mense. Jy sien die katolieke kerk aan die werk en jy word klein en dankbaar in die besef dat ook jou gemeente deel hiervan is. Ons bring hoop en maak ’n verskil. Dit is hoe die Noordelike Sinode sy taak verstaan. Dankie, tog dat die kerk nie net plaaslik is nie, maar ook katoliek (oral)!

16 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page