Search

Hieroor moet ons saam praat

“Ons moet mekaar hieroor hoor. Jy het my e-pos en nommer.” Hierdie uitnodiging van verlede week het verrassende resultate opgelewer. Die temas wat in die reaksies na vore gekom het, is reeds die afgelope Donderdag aan die kollegas deurgegee en ons hou dit op ons weeklikse sakelys sodat ons kan onthou om daaraan aandag te gee. Hou dus gerus die preektemas dop om te sien wanneer die saak waaroor jy gevra het aan die orde kom. Ek aanvaar daar mag dalk nog ’n paar vrae of voorstelle na vore kom, maar dit wat ons reeds ontvang het, sal ons goed besig hou. Kyk bietjie na die volgende lys (ek som die temas in my eie woorde op, maar haal plek-plek woordeliks uit die vrae aan):


  • Die opstanding van Jesus en die opstanding van die vlees waarvan die geloofsbelydenis praat. Hoe moet ’n mens dit verstaan?

  • Is dit regtig net Christene wat hemel toe gaan? Is die Christendom regtig die enigste weg na God?

  • Die geloofwaardigheid van die kerk. Soveel kerke soveel menings. En deesdae sommer baie uiteenlopende menings in een kerk. Gaan die kerk dit oorleef?

  • Die uitverkiesing. Is daar ’n “pre-selected” groepie wat voorkeur kry?

  • Die kerk sê ’n huwelik is die verbintenis van een man en een vrou. Wat dan van gay mense? Is hulle verbintenis nie ’n huwelik nie? Hulle trou dan met mekaar?

  • Moet ’n mens letterlik alles glo wat in die Bybel staan?

  • Wat is die kerk se standpunt oor selfdood en geassisteerde selfdood? Is dit in orde om ’n lewende testament te hê?

  • Hoekom doen God nie iets aan al die chaos in ons land en die wêreld nie? Wat help dit ons bid? Niks verander tog nie.

  • Kan ’n mens van ’n “weerlose God” praat soos wat Fay en James oor die Paasnaweek gedoen het? Is Hy nie almagtig nie?


Dit lyk my Fay en ek sal moet ma en pa staan vir die laaste vraag en Anton en Tienie sal die res doen. Dankie vir die saam dink. Ons sien uit daarna. Mag dit vir ons verrykend wees.


3 views0 comments

Recent Posts

See All