top of page
Search

Hoe leef mens dankie

‘Asseblief en dankie’… ek glo nie ek het hierdie twee woorde al so baie gesê soos die laaste twee jaar nie. Om ‘n kleuter van dankbaarheid te leer is nie ‘n maklike taak nie. Dit voel soos om in een van daardie draaideure voor ‘n hotel vasgekeer te wees. Dit vra oor-en-oor herinner. Ek vra myself gereeld af waarom is dit vir Ammie so moeilik om te onthou om dankie te sê. Terwyl ek weer vir Ammie aanmoedig om dankie te sê tref dit my – haar menslikheid. Is dankbaarheid nie maar vir ons almal moeilik nie? Moet ons nie almal so nou-en-dan daaraan herinner word nie. En net daar in die Spar neem ek ‘n diep asemteug en sê dankie. Dankie vir haar, dankie vir die lewe, dankie vir alles wat ek het.


Oktobermaand is dankie-maand. ‘n Maand om voorraad te neem. ‘n Geleentheid om bewustelik met dankbaarheid besig te wees. Ons gaan saamdink oor hoe ons met groter dankbaarheid kan leef. Ek wil jou nooi om dit ook baie tasbaar te doen deur ‘n dankie-sê-brief of gedig te skryf. Die kleinspan kan teken waarvoor hulle dankbaar is. Pos gerus jou brief of tekening in die Stellastraat Dankie-sê-Posbus voor in die kerk.


Mag hierdie dankie-sê-maand vir jou ‘n betekenisvolle maand wees.


9 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page