top of page
Search

“Hoe oop is toe?”

Wat ‘n vreemde vraag om te vra – “Hoe oop is toe?” Dit is die probleem van die vreemde tyd waarin ons lewe. Die tyd dwing ons om met oënskynlike paradokse (teenstellings) te lewe. In haar boek “Surprised by the Man on the borrowed donkey” gebruik Denise Ackermann die “Saligspreuke” as opskrifte vir die hoofstukke van die boek en dan is Hoofstuk 2 se opskrif “Blessed are those who embrace contradiction, for they will find promise in paradox” (p51-98). En dit is wat Stellastraat in hierdie moeilike dae wil aanbied, die belofte van die paradoks “toe maar tog nog oop”.


Hoe gaan ons dit doen? Met die aankondiging van die terugkeer na vlak 3 van die inperkings plus die aanbreek van die 3de golf van die pandemie, het die kerkraad besluit om vir eers weer die bywoning van die eredienste te stop.


Die besluit is nie net ‘n simbool om mense aan te moedig om veilig te lewe nie maar dit is ook ‘n voorsorgmaatreël om te keer dat groepe hoe klein of groot ook al bymekaar kom. So is ons dan wel toe vir die fisiese bywoning van eredienste maar terselfdertyd is en wil Stellastraat oop wees.


Ons wil oop wees vir enige persoon wat in nood is. Vir enige persoon wat weens die pandemie nie kan kos koop of nie by die apteek of waar ook al kan uitkom nie, wil ons oop wees. Ons as leraars wil beskikbaar wees om hierdie persone by te staan.


Ongelukkig kan ons net mense help as ons van hulle weet. So asseblief laat ons weet as jy van enige iemand weet wat in jou omgewing swaarkry. Ons is bewus van talle huishoudings wat in hierdie dae geweldig ontwrig is omdat hulle nie bymekaar kan uitkom nie – nie eens om mekaar te troos in die tyd van dood nie.


Ons harte gaan uit na elkeen wat swaarkry en wil graag daar wees vir mekaar. As gemeente wil ons vir mekaar omgee.


Kontak enige van die dominee’s asseblief, want ons omgee is oop – Fay (083 478 0854), Anton (083 458 8712), James (082 852 7947) en Tienie (083 627 5086).


57 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page