top of page
Search

Hoop vir ’n wen of wen vir hoop?

Donderdag se preekbespreking van die predikantespan het gefokus op die betekenis van die begrip “seën”. Hoe langer ons daaroor praat hoe groter word die besef dat van die kernwoorde in ons geloofswoordeskat gekaap is. Behalwe die begrip “seën” waarop Tienie en Fay Sondag verder sal uitbrei is daar ook begrippe soos hoop, liefde en genade. Neem nou maar die ding van hoop. Die Springbokspan speel hulle harte uit teen die Britse en Ierse leeus “want ons wil Suid-Afrika hoop gee”.


Ons een goue en twee silwer medaljes “bring hoop vir die land” sê die koerant. Nou wil ek weet hoe ’n wen op die sportvelde vir ons hoop kan bring? Of is my kleindogter Ami reg as sy tydens die Olimpiese Spele sê: “Ek wil nie meer in Suid-Afrika bly nie, want ons verloor te veel!” Hoe lief ek nou ook al is vir sport, dink ek dit is totale oorskatting van die belangrikheid van sport en ’n jammerlike onderskatting van die eintlike inhoud van die hoop waarvan die Bybel praat. Wat my hoop sal gee is nie medaljes op die sportvelde nie, maar wenne oor onreg en korrupsie. Nuwe werksgeleenthede wat mense hulle menswaardigheid sal teruggee, plaaslike rade wat die gemeenskap dien soos dit hoort, leiers wat verantwoordelikheid aanvaar en landsburgers wat saam begin werk aan ’n beter toekoms – dit gee my hoop. Dié hoop is die ware Jakob. Ek het ’n vermoede dat as ons dié soort Christelike hoop begin beliggaam in Suid-Afrika, sal ons ook vir Ami gelukkig kry en minder verloor by die Olimpiese Spele!

15 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page