top of page
Search

Jeugdag 1976, en die dice val steeds verkeerd

Ek was in 1976 in matriek. Dit was die jaar van die Soweto-onluste. Dit was voor sosiale media en TV. Ons inligtingsbronne was die radio en koerante. Linkse koerante of boeke is verbied. Die meeste van ons op skool het geen idee gehad waarom die opstande gebeur het nie.


Ons het wel gehoor dat die Suid-Afrikaanse Polisie en Weermag besig was om met ‘n ystervuis dinge uit te sorteer. Ons het veilig gevoel. Die kadet-meneer van ons skool, wat ook die kommandant van die plaaslike kommando was, het geen geleentheid laat verbygaan om ons met groot erns te waarsku dat die opstande deel is van ‘n totale aanslag. Die aanslag was eintlik gemik teen die Christendom, en is georkestreer vanuit Rusland. Kommuniste. Ateïste.


In die oog van ‘n storm is dinge dikwels moeilik begrypbaar. Dit was eers baie jare later dat ek iets meer van die Soweto-opstande begryp het. Dat die opstande deel was van ‘n groter Afrika-verset teen die politieke mag wat in die hande van ‘n minderheidsgroep Europese nasate was.


Ek weet nie of ek vandag net meer ingelig is, en of dit is omdat ek ouer is nie, maar die situasie waarin baie Suid-Afrikaanse swart jongmense vandag is, het in ‘n ander bedenklikheid ontwikkel. Die gehalte van onderrig wat baie jong swart kinders vandag ontvang, is uiters minderwaardig. Werkgeleenthede is so skaars soos hoendertande. Die skuldiges is nie meer wit mense wat besluite neem nie, maar dinge soos onbekwaamheid en korrupsie van die huidige leiers. Nog ‘n geslag vir wie die dice verkeerd geval het.


30 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page