Daar het ’n diep wantroue teenoor instellings in die samelewing ontwikkel. Dit is baie moeilik om politici of ampsdraers van die staat te glo. Hulle het net te veel kere vir ons gelieg en hulle eie belang gedien. As die munisipaliteit se amptenaar by rekeninge jou belowe dat die fout hierdie keer reggestel is, maan jy jouself in die stilte om dit nie te glo nie. Hoekom sou sy hierdie keer die waarheid praat?
Wantroue het met reg ons verstekposisie geword. Ek weet nie hoe die onbetroubaarheid van die publieke instellings ooit herstel sal word nie. As jy eers daar is waar mense jou nie meer vertrou nie, kan jy maar boedel oorgee. Dit laat ’n mens onwillekeurig wonder hoe geloofwaardig die kerk beleef word. Wat dink mense regtig van die kragdadige kitsoplossings wat in baie van die RSG-godsdiensprogramme aan hulle verkoop word?
Probeer jouself indink hoe sou ’n buitestaander Beeld se voorbladstorie “Nota help beskerm in ongeluk”, interpreteer. ’n Nota beskerm twee mense, maar wat van die drie persone wat tragies oorlede is? Watter soort god sou so werk? Dit is dan wat ek wonder hoe mense wat skepties na kerk en Christendom kyk, oor ons dink. En ek hoor in die agtergrond die tergliedjie wat jongmanne die bruidegom toesing op die bruilofonthaal: “How the hell can we believe you?” Wat het van ons geloofwaardigheid geword? Dit gaan nie eers help om te sê: “Ons is (dink) nie almal so nie”. Of sal dit?
Комментарии