Net gisteraand sê ‘n vriend dit weer. Hy is bekommerd oor die kerk. Ek wou hom nie vra oor wát van die kerk hy bekommerd is nie, want die gesprek kan in baie rigtings gaan. En my eie energie vir sommige onderwerpe is laag. Was hy bekommerd dat mense nie weer gaan terugkom kerktoe as die covid-pandemie verby is nie? Of was hy bekommerd oor die moontlikheid van nog ‘n afskilfering van ‘n deel van die kerk?
Of dalk was hy bekommerd omdat hy min jongmense in die kerk sien? Ek het in die gang van my lewe ook die kerk sien ‘kleiner’ word. En gesien dat minder kerkgangers nie die kerk noodwendig kleiner maak nie. Dit voel vir my ‘n mens moet die kerk aan die grote van sy hart meet, en nie die hoeveelheid voete wat die kerktrappies bestyg nie.
En in die gemeente waarin ek bevoorreg is om te werk en te leef, ervaar ek ‘n baie groot hart. ‘n Hart vol goedheid, liefde, medemenslikheid en omgee. Dit kan net wees dat die hart van die groter NG Kerk, al het hy minder lidmate, nie minder lewe in hom het nie. Juis die teendeel.
Opmerkingen