top of page
Search

Menseregte

Ons vier komende Dinsdag Menseregtedag. Menseregtedag wil ons nie net herinner aan ons land se geskiedenis nie, maar ook aan ons Grondwet se Handves van Regte. Hierdie handves omskryf sekere basiese regte waarop elkeen van ons, as landsburgers, aanspraak kan maak en waarvan ons nie ontneem mag word nie.


Dit is interessant dat die Bybel nêrens die term ‘menseregte’ gebruik nie, maar tog vir ons baie oor hierdie saak leer. Eerstens leer die Bybel dat alle mense menswaardigheid besit omdat God ons geskape het, en dit na Sy beeld.


Die Bybel maak baie van die ‘regte’ van mense, veral kwesbare mense en randfigure. Dwarsdeur die Ou Testament lees ons dat God aan sy volk die opdrag gee om die regte van die armes, weduwees, weeskinders en vreemdelinge te beskerm. God se volk moes goed wees vir die vreemdelinge wat onder hulle gewoon het. Israel moes onthou om anders op te tree as hulle gashere in Egipte, wat hulle tot slawe gemaak en sleg behandel het. Jesus maak ook baie moeite met die randfigure in sy samelewing. Óf dit ’n tollenaar of ’n onrein vrou was, Jesus behandel elkeen met deernis en respek.


Die Bybel maak baie meer van gelowiges se roeping, as ons regte. Die Nuwe Testament herinner ons om weeskinders en weduwees in hulle moeilike omstandighede by te staan, om in liefde te leef soos Jesus en om mekaar se laste te dra.


Dit lyk tog asof God ons roep om so te leef dat ons regte en vryheid ’n ruimte skep waarin alle mense, selfs die wat anders is as ons, met menswaardigheid kan leef.


Terwyl jy Dinsdag ’n braaivleisvuurtjie aansteek, in jou tuin werk, fliek óf saam met vriende en familie kuier dink na oor jou regte en wat jy daarmee maak? ’n Paar vrae om jou aan die dink te sit:


Die reg tot menswaardigheid – behandel ek alle mense met dieselfde mate van respek en menswaardigheid?


Die reg tot skoon drinkwater – werk ons as huishouding spaarsamig met water?


Die reg tot vryheid van spraak – gebruik ek daardie reg om soms die nodige vrae te vra rondom die ongeregtighede in ons land?


Geniet Menseregtedag!

8 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page