“Arm, maar nie armsalig nie. Slim, maar nie slinks nie. Rateltaai, maar nie hardvogtig nie.” So, beskryf die hoofkarakter in Annalie Botes se jongste roman, Katvis, haar ma. “Eers in haar grootmensjare het dit regtig tot haar gedaag dat haar ma een van die sterk rugwerwels in Forrest Hill is.” Een van die sterk rugwerwels? Dalk dié sterk rugwerwel van alle gemeenskappe. Ons ma’s, ons vroue. Dit is goed om ’n vrouemaand te hê. Dit is goed om te dink aan die rol wat vroue in ons lewens en in ons samelewings speel.
Wie is dit wat soos ’n katwyfie waak oor hulle kinders? Ma’s. Wie kan sonder moeg word aanhou om hulle kleinkinders te versorg en lief te hê? Ouma’s. Wie is onvoorwaardelik lojaal aan hulle eggenote? Wie het eintlik die kerk gebou? Nie die pratende manne van die kerkrade nie, die rugwerwels was die vroue van die vrouediens. Al wat vroue dalk minder het as mans, is spierkrag. Andersins is dit vroue wat die wêreld beweeg. Wat rigting gee. Wat durf en moed het om die onmoontlike aan te pak. Nie armsalig nie, slim en rateltaai. Al is ouma 85 en haar agterkleinkind net een jaar, hulle wys die pad aan – hulle is met sterk rugwerwels gebore.
Comments