“‘n Mens wie se kinderdae gelukkig en vertroetel was, bewaar altyd in hul harte iets van die lekker warmte van die nes”, het André Theuriet, ‘n 19e eeuse Franse skrywer oor sy opgroeijare gesê. Dis nou kinderdae in Stellastraat. Altans so voel dit. Oral sien jy net pragtige kinders rond. Dit het begin met die gemeentekamp toe die trop kleiner kinders wat daar rond gestorm het my eindelose plesier gegee het. Hierdie naweek is dit die graad 7’s wat ‘n roetemerker vir hulle grootskool-jare gaan kry. En dan die jongmense, wie se volwassenheid begin blom, wat Sondagaand kans kry om hulle aan die kerk te verbind. Dit is almal pragtige kinders wat vir ons wat ouer is, hoop gee. Ons harte warm maak.
Ons moet probeer balans hou oor ons kinders en hulle toekoms. As ons dit nie doen nie, gaan ons dalk fokus verloor op wat hulle nodig het. Die warm nes is nie vanselfsprekend nie. Die realiteit is dat baie van ons kinders emigreer omdat hulle neste geplunder word. Baie van ons kinders word in gebroke huise groot wat soms uitwisbare pyn in hulle los. Wat ek sien is dat talle kinders in ons omgewing onder baie druk geplaas word met die besige programme waaraan hulle moet deelneem. Vandeesweek stu ons as kollegas doelgerig om 2023 se gemeentekalender reg te kry. Dit is opmerklik dat informele jeugbyeenkomste soos Kinderkrans en KJA-kampe nie meer op ons radar is nie. Tyd het die kinders se lewe by die kerk gesteel. En dalk die moontlikheid dat die kerk ook ‘n warm nes van hulle kinderjare kon wees? “Tyd, die subtiele dief van die jeug”, het John Milton, skrywer van Paradise Lost, reeds in die 17e eeu gesê.
Ek kan ook nie anders as om te dink aan talle mense wat kinderloos is, wat met hulle hele hart begeer om ‘n warm nes vir ‘n kind te kan gee nie.
Comments