Die imposante tempel in Jerusalem is in 70nC binne vyf maande gelyk gemaak met die grond. Die Romeine onderleiding van Titus wou vir eens en vir altyd korte mette maak met die opstandige Jode. Dit was egter nie net die oormag Romeinse soldate wat die tempel se ondergang bewerk het nie, die onderlinge gevegte tussen die Jode binne die tempel, het ‘n groot rol gespeel om die wonderlike gebou se einde te verhaas.
Die Suid-Afrikaanse gemeenskap van 2023 is beleër. Die belofte van ‘n Nuwe Suid-Afrika waarin voorspoed vir almal voorsien is, het vir baie ‘n hersenskim geword. Die woorde korrupsie, swak dienslewering en verval van strukture het algemene spreektaal geword. Dit is of almal mekaar verwyt oor wat aan die gebeur is. “Dit is steeds die nagevolge van apartheid” sê sommige, “dit is die beleid van kaderontplooiing” sê ander. Niemand wil verantwoordelikheid neem nie.
Daar is telkens beloftes dat dinge gaan nou omgedraai word, maar niemand glo meer die beloftes nie. Daar is ‘n aantal burgerlike instansies wat probeer om iets nuuts op te rig, maar hulle motiewe word verdink.
As ons nie baie vinnig ‘n sterk beweging in Suid-Afrika kry wat daarin slaag om die onderlinge verwyte een kant te sit nie, gaan dit van sleg na slegter gaan. Ons het nou bekwame landspatriotte nodig wat nie aan kleur óf mag óf persoonlike voordeel dink nie, maar wat óns imposante land baie liefhet. Wat mekaar se hande vat, vertroue by die publiek inboesem, en die regte besluite en bestuur vir almal in die land maak.
Comments