Liewe vriende,
“Goeie môre, goeie middag, goeie naand
Baie dankie vir ’n wonderlike aand
Veels geluk en bly te kenne. Vat die hand
Simpatie, ek voel saam met jou
Dis alles woorde, net leë woorde op vals akkoorde”
Ek hoor Koos du Plessis se woorde in my kop terwyl ek ’n afskeidswoord probeer skryf. Dit is asof elke woord een te veel is en al die woorde te min. Tog wil ek vir oulaas hier ’n paar woorde pleeg om dankie te sê. Ek doen dit namens ons hele gesin. Dudley, Cobus, Mari en ek het in Mei 1989 met ons VW Golf hier aangekom en mettertyd ryk geword. Die Golf het ’n VW Tiguan geword, die Kirkpatricks het twee vroue (Esmarie en Janettie) en vyf kleindogters (Janelle, Linmari, Christi, Amelie en Jamie) bygekry en ons het deel van die Stellastraat-familie geword. Arm was ons gister, maar nou is ons skatryk!
Ons sou kon dankie sê vir alles wat julle vir ons gedoen het. Dit sal te lank neem. Daarom liewers ’n opregte waardering vir wie julle is. ’n Gemeente wat iets van die ligtheid en vryheid van geloof verstaan en dit leef. Dankie vir die veilige ruimte waarin ons kon lidmate wees en ek my werk as predikant kon doen. Julle was vir ons die huisie by die see. Binne was dit veilig, warm en dig.
Ons groet julle met ’n ligte hart:
Mag die HERE julle seën en julle beskerm;
Mag die HERE sy aangesig oor julle laat skyn en julle genadig wees;
Mag die HERE sy aangesig na julle toe oplig en aan julle vrede gee.
Liefde,
Die Kirkpatricks
Коментари