top of page
Search

Oom Ivan en die vleiloerie

Ek skrik in die nag wakker. Van ontsteltenis. Vroeër die dag was ek by Oom Ivan in die hoësorg-afdeling van Jakaranda hospitaal. Sy arms is aan die reëlings van sy bed vasgemaak omdat hy die pypies en die drade van die monitors uittrek. Oom Ivan se frustrasievlakke is ooglopend intens. “Maak my asseblief los”. Ek kry hom bitter jammer. Ek maak my gouer as wat ek wou uit die voete. Die onafhanklike 93-jarige trotse man het onvoorsiens nie net pasiënt geword nie, maar ook ‘n ‘gevangene’.


Is die Suid-Afrikaanse nasie se hande ‘vasgebind’? In die haas om van die ideologieë van apartheid, kolonialisme en kapitalisme weg te kom, het die nasie verstrengel geraak in werkloosheid, onbekwaamheid en misdaad. Dié onnadenkendheid het gemaak dat die Suid-Afrikaanse nasie nou soos ‘n pasiënt op ‘n hospitaalbed is wie se hande vasgebind is. Jou oë spuug vuur en jou hart bons van angs, maar jy kan niks doen nie. Die trotse nasie is vasgevang, verstrengel in verskeie inploffings. Daarby het inflasie die wêreld beet, en as dit nie gestuit kan word nie, is hongersnood op miljoene mense se voorstoep.


Half ses roep ‘n vleiloerie ons met sy bekende roep weer wakker. Die keer is ons nie ontsteld nie, maar verras en bly. Die vleiloerie sit in die boom by ons kamervenster. Sommige mense noem hom die reënvoël. Die laaste paar dae ruik ons al die reën. Die aarde is poeierdroog en het bevryding nodig. Bevryding van die angs van doodgaan. Dalk was die loerie se plotselinge verskyning ‘n teken van hoop. Nie net vir reën nie, maar ook vir Oom Ivan en die Suid-Afrikaanse nasie.


14 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page