‘n Olimpiese Spele tydens die pandemie! Dit is amper of jy wil sê “Dit is onmoontlik”. En tog is dit nou reeds ‘n paar weke na ‘n Spele wat myns insiens uitstekend aangebied was. Elkeen van ons het sekerlik ons eie ervarings van die Olimpiese Spele. Wat my baie laat dink het, wat motiveer jou as daar nie toeskouers is nie? Dit is hier waar Tatjana Schoenmaker inkom. Nie net omdat sy twee van die drie totale medaljes van Suid-Afrika gewen het nie maar eerder die manier waarop sy die medaljes gewen het.
So vreemd as wat dit mag klink, is dit juis die silwer medalje wat my diep geraak het. In ‘n onderhoud met haar ouers het die joernalis die stelling gemaak “Julle is seker baie teleurgesteld dat sy nie gewen het nie”. Die stelling is gemaak opgrond daarvan dat Tatjana reeds in die uitdun ‘n Olimpiese rekord geswem het en ook die vinnigste tyd. Almal het verwag dat sy ook die finaal sal wen maar toe kom sy tweede. Op die joernalis se stelling het Tatjana se ouers geantwoord “Sy mag dalk silwer om die nek hê maar sy het goud in die hart”. Dit was omdat Tatjana self gesê het “Swem is nie wie ek is nie. Ek sal ‘n lewe hê al hou ek op om te swem want God het ‘n plan met my. Hoe ek by die Spele vaar definieer nie wie ek is nie”.
Haar ouers het beleef dat dit wat Tatjana definieer, is nie dit wat sy om haar nek dra nie, maar dit wat sy in haar hart dra – God se liefde vir haar. Ons kan so maklik in die strik trap om te dink dat dit wat ons definieer die dinge is wat ons om ons nek dra – of dit nou besittings is en of dit prestasies is. Mag dit wat ons in ons harte dra, bepaal wie ons is. Soos Paulus gesê het “Deur die genade van God is ek wat ek is” (1 Kor 15:10).
Comments