top of page
Search

Sinisme vir ’n ses geslaan

Baie van die sittings van die Zondo-kommissie was boeiende kykstof. Om te aanskou hoe adv. Kate Hofmeyr die arrogansie van voormalige SAA raadslede met deeglike voorbereiding en logika ontmasker, het my laat voel daar word darem iets gedoen aan die kanker van korrupsie in ons samelewing. Maar mettertyd het ek begin om minder aandag aan die Zondo-kommissie te gee. Die frustrasie om al hierdie goed te hoor en te voel daar word niks aangedoen nie, het my begin skepties maak.


Die Suid-Afrikaanse samelewing is tot sterwens toe siek, maar te veel mense met mag het ’n belang dáárby dat die reg nie sy gang moet gaan nie. Daar sal dadels van kom, het ek gedink. Dudu Myeni en Jacob Zuma gaan steeds al die pad bank toe lag. Dit is wat sinisme aan jou doen. Jy begin glo dat die kwaad sterker is as die goeie. Jy verwag nie meer dat die regte ding gaan gebeur nie. Vir iemand wat die Evangelie glo, is dit ’n slegte plek om te wees. So sinies kan en mag ’n gelowige nie wees nie. In Jesus het die Koninkryk tog reeds gekom. Uiteindelik sal geregtigheid geskied.


Dié week se uitspraak van die konstitusionele hof het sinisme vir ’n ses geslaan! Ek weet een ses wen nie noodwendig ’n wedstryd nie, maar sesse is in hedendaagse krieket nie meer so seldsaam nie! Dalk, net dalk is dit die begin van ’n lopiefees.


Maar laat die reg aanrol soos watergolwe, en geregtigheid soos ‘n standhoudende stroom.

Amos 5:24


11 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page