top of page
Search

Skermverslawing laat rooi ligte aangaan

Ons word skermverslaafdes! Oral sien jy dit, mense staar na hulle selfoonskerms. Nie net kinders nie – maar veral kinders – ook grootmense staar vir ure op ’n dag na dit wat op hulle selfoonskerms aangaan. En almal maak of hulle iets belangriks op hulle fone hanteer – tog weet ons, dit is meestal sosiale media flitse wat hulle koppe okkupeer.


Toe ek nou die dag hoor van ’n gewone Franse gesin wat nie eers daaraan dink om vir hulle kinders onder 10 jaar selfone te gee nie, en ek sien my eie kleine kleinkinders wat tekens van obsessie oor selfone ontwikkel, gaan die rooi ligte vir my aan. Ontwikkelde samelewings weet reeds dat die langtermyn effek van te veel skermtyd nie goed kan wees nie. Ons is weer besig om agter te raak!


Wat verloor ons as ons skermverslaafdes geword het? Ons vermoë om waar te neem dit wat in ons eie lewe is, word minder. Die herinneringe wat ek moet opbou oor familie-artefakte in ons huis, die skoonheid van die tuin, die klanke van die stad en die natuur, alles word onderdruk. Ek sien en hoor minder. Ek stel al hoe minder belang in lees. Lees wat onontbeerlik is vir kognitiewe ontwikkeling en vir die ontwikkeling van verbeelding.


Praat nie eers daarvan dat selfoonskerms gesprekke tussen mense dooddruk nie. In plaas daarvan dat ons ’n gesprek begin en ontwikkel, gryp ons na ons selfone. In die proses verleer ons om te luister, om kreatief in mense se lewenssituasies betrokke te wees.


Soos met alles waaraan ’n mens verslaaf kan word, kry die selfoonskerms ’n greep op ons lewens. ’n Houvas. En dit mag dalk wonderlik wees (soos enige verslawende middel), maar dit beroof ons wonderlike geleenthede wat aan ons gegee word.


5 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page