top of page
Search

Stellastraat se kanale van liefde

Toe God vir Abram geroep het (Genesis 12), het God hom geseën sodat Abram tot ’n seën vir ander kon wees. As Jesus mense se nood raaksien en hulle help (deur hongeres te voed, siekes te genees en selfs vir ’n benoude bruidegom wyn te maak), dan roep Hy mense om Hom daarin na te volg.


Om uit te reik na mense in nood, lê in die hart van ons geloof. Dit lê op elke gelowige se pad om met sagte oë na die wêreld te kyk, en te help waar ’n mens kan.


Maar dit lê ook op die weg van gelowiges as liggaam om saam te werk in sulke uitreikprojekte. Daarom dat Stellastraat as gemeente ’n Diensgroep Uitreik het. Dié diensgroep help om hulpbronne uit die gemeente (hetsy skenkings van kos, klere of geld) te kanaliseer na waar daar nood is.


In Stellastraat se Uitreikbegroting word beoog dat die gemeente in die huidige boekjaar byna R1,3 miljoen bestee. Dit sluit byna ’n halfmiljoen rand aan sinodale bydraes in waardeur onder meer huise vir kinders en bejaardes onderhou word.


Die meeste van die uitgawes word gedek deur gewone maandelikse bydraes van lidmate, maar daar word ook begroot vir R350 000 rand aan spesiale bydraes. Enigeen wat hiertoe wil bydra, kan dit gewoon in die kerk se rekening inbetaal en dit merk “Uitreik”. Dit sal die gemeente en die diensgroep help om ’n effektiewe kanaal van God se liefde na ’n wêreld in nood te wees.


4 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page