top of page
Search

Suid-Afrika was ‘n ander plek

Later vanjaar gaan ek my 50-jarige matriek reunie by Die Hoërskool Menlopark bywoon. By dieselfde geleentheid word die skool se 60ste verjaardag gevier.


Dit het my aan 1973 laat terugdink. Adv John Vorster die Eerste Minister en mnr Jim Fouché was die Staatspresident. Die Nasionale Party was reeds 25 jaar aan bewind en het onaantasbaar gelyk.


Koerante (weekblaaie en Sondagkoerante), tydskrifte en radio was die nuusmedia. Teen 1973 het Suid-Afrika nog nie televisie gehad nie, want dit was té liberaal. Die prys van ‘n weeklikse koerant was 5c. Sedert 1973 het pryse in Suid-Afrika weens inflasie gemiddeld met ‘n faktor van 67 gestyg. As ‘n mandjie goedere toe R10 gekos het, sal dit nou gemiddeld R670 kos. Pryse van klere en elektriese goedere het sedert 1973 gemiddeld met minder as die inflasiekoers gestyg, terwyl voertuie se pryse baie vinniger gestyg het. Camel sigarette was 45c vir 20 en sigaret advertensies was wettig.


Die eerste oliekrisis was in 1973 en almal is sleg daardeur getref, met ‘n spoedbeperking van 80 km/u. Petrol is net op weeksdae tussen 07:00 en 17:00 verkoop. Die wisselkoers was in 1973 sowat R1 = VS$1,40, of dan VS$1 = 72c. Dit laat my sidder oor die huidige wisselkoers, wat swakker is as VS$1 = R18,00. Dit wys die impak van Suid-Afrika se inflasiekoers en ekonomiese wanbestuur.


Daar was gerugte van skermutselings op die noordelike grens van Suidwes-Afrika (vandag Namibië), maar kragtens beheermaatreëls wat destyds gegeld het, mag die media nie eintlik oor die weermag se betrokkenheid verslag gedoen het nie. Al die seuns in matriek moes egter gaan diensplig doen en inligting oor ‘n bosoorlog het na 1973 vinnig versprei. Die N1-snelweg deur die ooste van Pretoria is in 1973 gebou, wat destyds naby die oostelike grens van die stad was. Die laaste huis aan die suid-oostekant was by Glenwoodweg 100 in Lynnwood Glen, op die hoek met die Ou Militêre Pad. Woonbuurte soos Faerie Glen en Garsfontein verder oos is eers na 1973 ontwikkel.


Die (destydse) Noord-Transvaal het die Curriebeker teen die (detydse) Vrystaat gewen. Die wedstryd was op Loftus Versfeld en die telling was 30–22. Ses A’s in matriek was ongehoord en ‘n groot uitsondering. Ek wonder steeds of vandag se skoolkinders slimmer is of harder werk, want die aantal A’s wat hulle in matriek behaal, is baie meer.


Tie a Yellow Ribbon Round the Ole Oak Tree was 1973 internasionaal die gewildste liedjie. Dalk was dit in Suid-Afrika verban, want in daardie tyd het die plaaslike Sensuurraad onder meer Kennis van die Aand van André P Brink verban. Suid-Afrika se top-Top 20 was I don’t wanna play house. Suid-Afrika was in 1973 ‘n ander land, maar ons is sekerlik die aanpasbaarste geslag in die geskiedenis.


9 views0 comments

Recent Posts

See All

Commentaires


bottom of page