“Wat ons dink ons is vandag, is ons more nie meer nie.” Die wyse woorde kom van my ma toe ons die afgelope week met mekaar praat oor familie en vriende wat oud geword het en sukkel om hulle leefwyse te handhaaf.
Dit is hoe die lewe is. Dalk ook goed so, want as ons al vandag se energie gebruik om bangwees vir more te bedink, gaan ons mal word. So onbekend is die toekoms, wat ons dink ons is vandag, is ons more nie meer nie!
Daarom moet ons vandág probeer om sin van die lewe te maak. Nie net sin soek nie, maar ons moet hard probeer om so eties en gelukkig as moontlik te lewe. Natuurlik moet ons beplan en verantwoordelike besluite oor die toekoms maak, maar daar is ‘n klomp goed oor die dag van more wat ons glad nie weet nie! Ons gesondheid, pandemies, oorloë, ongelukke, onvoorsiene politieke gebeure – ons het geen insig en beheer oor die situasie waarin ons more gaan wees nie.
Stellastraat is vanjaar 75 jaar oud! Niemand in die verlede het voorsien dat Suidoos-Pretoria eendag as Stellastraat bekend sou staan nie. En Stellastraat is in baie opsigte anders as Suidoos. Hoe weet ons wat ‘n volgende generasie op gaan besluit, en waartoe hulle genoop gaan word? Daarom, kom ons vier gewoon vandag se lewe en lewensmoontlikhede!
Comments