top of page
Search

Tien-dae-regrukplan vir Stellastraat

Met my kollegas se vertrek op hulle buitelandse toer het ek op ons WhatsApp-groep laat weet dat ek in hulle afwesigheid aan ’n tien-dae-regrukplan vir die gemeente werk. Waarop Tienie geantwoord het: “Jy dink nie jy het meer as tien dae nodig nie?” My reaksie daarop was dat ek net aan die plan werk. Hulle moet dit kom uitvoer as hulle terugkom! Agter hierdie tong-in-die kies-opmerkings van ons lê daar tog die gevoel dat dinge in die kerk nie is wat dit moet of kan wees nie. In ons verslag aan die Ring waarvan ons deel is verduidelik ons dat die impak van Covid-19 nog orals te sien is.


Net soos wat daar baie mense is wat tans sukkel met die nadraai van die Covid virus en dokters nie mooi weet watter medikasie daarmee sal help nie sukkel ons ook in die kerk met dinge wat net nie wil regkom nie. Ons het in die hoogbloei van die pandemie al die aanvoeling begin kry dat dit nie sommer gou weer business as usual sal wees nie. Die finansies is onder druk, kerkbywoning nog nie naby die voor-Covid syfers nie, bywoning van Pinkster was skraal, jeuggroepe sukkel om behoorlik aan die gang te kom en die heerlike gemeentefees is nog nie die reuse kuiergeleentheid waaraan ons gewoond is nie.


Dalk is daar tog ’n regrukplan nodig. As ek aan so plan moes werk, sal dit ’n identiteitsgedrewe plan wees. Iets soos “Weet wie julle is en wees dit!” ’n Gemeente wat haar identiteit verstaan en dááruit lewe, sal lewenskragtig die toekoms ingaan. Soveel te meer as ons weet wie s’n ons is en dit leef. Tienie is reg. Hiervoor het ’n mens meer as tien dae nodig.

7 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page