top of page
Search

Twee Kerssangdienste! En geen ‘lastigheid’ gaan ons terughou nie!

Dit is darem die lekkerste lekker wat ons nie kan verloor nie! Om Kersfeesliedere met oorgawe te sing. Om die diep klanke van die orrel en die fanfare van die trompet in ons harte te hoor, is ‘n roerende ervaring! En dit is presies waarna ons streef eerskomende Sondag. Dit is die jaarlikse geleentheid van ons Kerssangdienste. En vanjaar twee Kerssangdienste!


Ons kan skop en skreeu soos ons wil, die covid 19-virus dwing ons om aanpassings te maak. Stellastraat mag nie ‘n superverspreider van die virus wees nie! Ons probeer daarom verantwoordelik wees. Daarom hou ons twee geleenthede. Die manier verdeel ‘n bietjie ons getalle – hoewel jy welkom is om beide by te woon!


Die 09:00 erediens is ‘n klassieke Kerssangdiens binne die kerk, en die kunstenaars wat ons gaan help is Maricus le Grange, Renate van Niekerk, Chrisna Snyman, Ona Ackermann, Rex Nigrini, Bambi Heiberg (viool), Ronél Bosman (dwarsfluit), Johan Ferreira (klarinet) en Jevon O’Donovan (trompet). ‘n Absolute fees van klassieke musiek met van ons stad se heel beste kunstenaars!


Die 19:00 erediens is buite, op die kerk se voorstoep en die grasperk. Die musiek word gelei deur Jattie de Beer en ‘n begeleidingsgroep. Ook van die beste wat ons stad het in kontemporêre musici! Dieselfde mooi musiek, maar die keer kan jy reeds 18:00 opdaag met jou kombers, kampstoele en en piekniekmandjie. Andersins kan jy net 19:00 opdaag met jou stoel of kombers.


Ons gebruik is dat ons die Adoramusdiens net een keer per jaar oorslaan, en wel wanneer dit Kerssangdiens in Stellastraat is. Dit is komende Sondag, 28 November, die eerste Sondag van Advent. Op 5 Desember lei Anton die Adoramusdiens.

13 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page