top of page
Search

Vasbyt!

Hoe lyk die lewe na-Covid? Selfs al is dit so dat ons nie regtig na-Covid is nie, het ons tog begin nadink oor hoe om die pad weer te vind na die groot krisis van die afgelope twee jaar. Die trauma van die pandemie was intens en het baie seergemaak. Die skade is orals te sien. Dit verbaas nie dat ons dikwels nie mooi weet wat om nou te doen nie. Die inhoud van die gesprekke het dikwels die klank van die klaaglied. Herstel is nie insig nie. Die besigheid sukkel steeds om op dreef te kom, die verval in die land is opvallend en lewenskoste knyp. Dit is nie so maklik om die in-sak-en-as-gevoel af te skud nie. Vreemd genoeg bevind jy jou soms net die volgende dag in die teenwoordigheid van die aarts-optimiste.


Hulle probeer kop in die wolke die trauma wegdink deur te fokus op nuwe moontlikhede en die pandemie af te maak as “toe nou nie so erg nie”. Ek dink nog die in-sak-en-as-opsie, nog die kop-in-die-wolke-alternatief, is ’n wyse keuse. Met die lees van die Psalmboek in die Bybel kom ’n derde alternatief na vore. En dit is nie ’n mengsel van die ander twee nie. Dit is iets heel eie aan die geloof in God. Dit word raak deur die woord “resilience” beskryf. Wat sou ’n goeie Afrikaanse woord hiervoor wees? Ek hou nie van “veerkragtig” nie. Dit voel soos iets wat net jongmense kan doen. Dalk moet ons dit eerder vertaal met iets soos die “taaiheid van geloof”. Sonder om trauma te ontken of te probeer wegpraat, moet ons eerlik oor die pyn wees, maar vasberade voortleef en bly soek na alternatiewe en uitkoms. Hou aan. Byt vas. Bly voluit leef. Dit lyk vir my na ’n beter keuse om met dié lewenshouding van die psalmdigters te leef.

3 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page