top of page
Search

“Waarom die Advent-kers?”

Simbole in Kerstyd – dit ken ons almal mos en ons is daaraan gewoond. Ons het so gewoond geraak aan die simbole dat ons miskien nie eens meer die waarde daarvan besef nie. Dit kan ook met die simbole in die kerk gebeur. Elke jaar vir vier weke voor Kersfees is daar ’n krans met kerse voor in die kerk. Wat ’n gebruik geword het, beteken nie dat almal die waarde daarvan verstaan nie. Ons noem die krans, die “Advent-krans”. “Advent” kom van die Latynse woord “adventus” wat “aankoms” beteken. Met die krans herdenk ons die koms van Christus. Vir vier weke besin ons die waarde van Christus se koms na die aarde.


Die Advents-krans help ons dan met hierdie besinning. Die krans bestaan uit vyf kerse wat in ’n sirkelvormige krans gerangskik is. Vier van die kerse vorm die sirkel en dan een kers in die middel. In die sirkel is daar drie blou kerse en een ligroos kers wat op die derde Sondag aangesteek word.


Die sirkel van die krans simboliseer God se ewigdurende liefde en sy bestaan van ewigheid tot in ewigheid. Die lig van die kerse dui op God se lig wat deur Christus in die wêreld ingekom het en dat die duisternis die lig nooit kan verdryf nie. Die vier kerse op die sirkel verteenwoordig die uitwerking van Christus se koms naamlik, week 1 - hoop, week 2 - vrede, week 3 - vreugde en week 4 - liefde. Op Kersdag word die kers in die middel, wat spierwit is, aangesteek. Dit is die Christuskers. As leraars wens ons vir elkeen van julle ‘n wonderlike Feestyd toe! Mag ons nie net nadink oor Christus se hoop, vrede, vreugde en liefde wat Hy kom moontlik maak het nie, maar mag ons ook self hierdie hoop, vrede, vreugde en liefde beleef en uitleef.


266 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page